BEDIENINGE
- BARMHARTIGHEID
Dit is die liefde van God wat ons dwing tot diens van barmhartigheid. Sy liefde word by uitstek aan die kruis gesien toe Jesus Sy lewe uitgegiet het as gevolg van Sy troue liefde vir die mens. Net so word ons ook opgeroep om mekaar lief te hê. Ons gemeente is baie bewus van die nood van mense om ons.
Die Barmhartigheidsbediening se funksie is om te sorg vir behoeftige mense wat geen inkomste het om in daaglikse benodighede soos kos te voorsien nie. Vir dié doel is die koskas gestig. Lidmate skenk elke maand produkte vir ons koskas en dan word daar ook nog kos maandeliks aangekoop om kospakkies aan behoeftige gesinne te versprei.
Kontakpersoon: Marlene Kriel (078 493 2140)
- EREDIENS
Ons erediens vorm die hartklop van ons gemeente. In die erediens vind daar ‘n ontmoeting plaas tussen God en die gemeente.
Aan die eenkant hoor ons God se stem deur Sy Woord en Gees. Daarom is Skrifgetroue prediking vir ons by Springs-Oos baie belangrik. Volgens ‘n kerkraadsbesluit gebruik die leraars Donderdae as tyd van afsondering en voorbereiding vir die erediens, waar geen ander afsprake gemaak word nie. Dit is vir ons belangrik om te hoor wat die Here vir die gemeente wil sê en daarom moet die leraars tyd maak om die Here se aangesig te soek vir die gemeente.
Aan die ander kant is dit ook die gemeente wat in die erediens antwoord deur lof en aanbidding, gebed, belydenis, getuienis, maar ook toewyding om ‘n lewe van dankbaarheid voor God te leef, ‘n lewe om God te eer en te verheerlik. Musiek speel vir ons ‘n belangrike rol tydens die erediens, want dit is die instrument vir lof en aanbidding. Musiek as aanbiddingsinstrument bied ruimte vir verskeidenheid in die verskillende eredienste soos gepas.
In ons eredienste staan die verkondiging van die Woord en bediening van die sakramente sentraal. Ons erediens en Woordbediening vind Sondae 09:00 plaas. Die Bybelskool vind Woensdae 10:00 by die Konsistorie plaas as deel van ons Woordbediening.
Lidmate kan betrokke raak by ons erediensspan bv. die verwelkoming by die deure, opneem van die offergawes, uitdeel van die nagmaaltekens, tegniese span (klank en rekenaar).
Kontak die kantoor indien jy betrokke wil raak by die erediensdiensspan indien jy betrokke wil raak by die Musiekbediening en tegniese span.
- EVANGELISASIE
Die hart van hierdie bediening is om die Bybelse opdrag soos in Hand. 1:8 en Mat. 28:19 uit te voer en uit te leef.
Die Evangelisasiespan wil graag elke lidmaat, wat ‘n hart vir evangelisasie/sending het, die geleentheid gee om deel te wees van hierdie bediening, deur middel van hul kennis, kundigheid, ondervinding, insette of diensbaarheid.
Ons is betrokke by die vestiging van ‘n kerk by Malamulele in samewerking met pastoor Cicel. Die tweede kerkgebou in Malamulele se dak is in Desember 2016 opgesit. Ons reik ook elke jaar uit na hierdie gemeenskap en help met opleiding sodat hierdie gemeente onafhanklik kan funsioneer as ‘n gemeente van Jesus Christus.
Mense met `n hart vir die Here en evangelisasie/sending word hartlik uitgenooi om betrokke te raak.
- FAMILIEBEDIENING
Ons almal is deel van ‘n familie (gesin), maar ook deel van God se familie (die gelowiges). ’n Familie is ’n veilige plek waar die lede van die familie die ervaring van “behoort” het; sorg dra vir mekaar; saamgebind is deur hulle storie; bewus van en ingestel is op mekaar se agendas en aspirasies vir die toekoms; en wat leef en wandel in die teenwoordigheid van die Here en dit na buite toe uitleef. Dít is die kern van familiewees. Die hooftaak van die Familiebediening is om ons kinders te begelei tot geloofsvolwassenheid. In hierdie proses speel ons Voogde (Kategete) asook ouers ‘n belangrike rol.
VERTREKPUNT: Die bediening aan die kinders van hierdie gemeente geskied vanuit die Bybel as God se onfeilbare en betroubare Woord, met die oortuiging dat God gelowiges deur sy Woord en Gees lei en met die wete dat ouers God se primêre geloofsbegeleiers is.
DOELWIT: Die uiteindelike doel van alle aktiwiteite is om gehoorsaam te wees aan Die Groot Opdrag van Jesus in Matteus 28:19 en 20:
Ons wil dus die kinders dissipels van Jesus maak en hulle leer hoe om sy voorskrifte uit te leef en te gehoorsaam;
Terselfdertyd wil ons die ouers bystaan en toerus om hulle rolle as geloofsbegeleiers en geloofsmodelle te vervul.
Die bediening aan ons kinders moet verskeie geleenthede aan hulle bied sodat hulle by die kerk geleentheid kry tot lering, ontspanning, ondersteuning, dienslewering, ensovoorts
Ouers word beskou as die primêre geloofsbegeleiers en geloofsmodelle van kinders. Die gemeente moet sy taak ten opsigte van die kinders so effektief en Skrifgetrou as moontlik uitvoer asook die ouers bystaan in hulle taak in die uitvoering van hulle doopbelofte. In hierdie verband moet ouers maksimaal betrek en bereik word sowel as toegerus word.
Ons Peuter- en Kleuterkerk vind tydens die erediens plaas by ons Jeuglokale. Kategese (Sondagskool) vind plaas direk na die erediens om 10:00. Hou ook die afkondigings dop vir Jeugbyeekonkomse.
- GEBEDSAKSIE
“Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking” (Jakobus 5:16b). Hoekom beskou ek as ‘n Christen my gebede as kragtig? Gebed is nie bloot ‘n godsdienstige aktiwiteit nie. Gebed is ook nie ‘n instrument om God te manipuleer nie. Gebed is ‘n verhouding tussen ‘n persoon en sy God. Ons bid omdat God ‘n verhouding met ons geskep het. Hy nooi ons uit om in sy teenwoordigheid te kom. Wanneer ons bid gaan ons die troonkamer van die heelal binne. Daar leer ons die hart en wil van ons hemelse Vader ken. Gebed is die vernaamste manier waarop ons met God kommunikeer. Gebed is ‘n soeke na God se wil. Die Bybelse boodskap hieroor is eintlik baie eenvoudig, te wete dat God se wil ‘n verhouding is wat Hy van sy kant af in en deur Christus tot stand bring. Om in Christus te glo, is om binne God se wil te leef. Gebed het krag, want die Bybel verseker ons dat God intens by ons gebede betrokke is, in so ‘n mate dat Hy selfs ons gebede gebruik om sy plan vir die wêreld tot uitvoer te bring. Maar gebed stel ons eie wil altyd ondergeskik aan God se wil. Wanneer ons bid, buig ons aanhoudend voor Hom en vra dat ons gebede Hom sal verheerlik en sy Naam sal grootmaak.
Gebed is verder ook die kragenjin van ons gemeente. In gebed verklaar ons ons afhanklikheid van die Here. Hy is die Een wat sorg. Die gemeente moet opgebou en toegerus word as “n Huis van gebed”. Gebed begin by elke lidmaat en elke lidmaat moet op die een of ander wyse betrek word by gebedsgeleenthede.
Daar is verskeie gebedsgeleenthede in Springs-Oos:
Elke Sondag-ogged is daar ‘n halfuur van gebed voor die erediens (in die gebedskapel). Alle lidmate word hierheen uitgenooi. Tydens hierdie gebedsbyeenkoms is daar ruimte vir die bediening van die Woord, voorbidding, getuienis, profesie, lering ens. Lidmate wat die behoefte het vir gebed word ook uitgenooi om saam te kom bid sodat die groep bidders hulle aan die Here kan opdra. Ons sien met verwagting uit na dit wat hieruit gaan voortvloei. Elke Donderdagoggend om 06:00 is daar ‘n manne-gebedsbyeenkoms by die kapel. Verder word gebedsversoeke en voorbidding vir lidmate op die afkondigings geplaas waar lidmate in hul eie persoonlike stiltetyd vir medegelowiges kan bid.
- GOUE ANKER
Op 3 Februarie 1992 het die Goue Anker tot stand gekom, met ‘n ledetal van ses en dertig. Vandag nog staan hierdie Aksie baie sterk. Maandeliks, verkeer die Goue Anker sosiaal. Hulle besoek interessante plekke soos museums, die glasfabriek, planetarium, en vele meer. Ons Lente-tee en Moedersdag geleenthede is altyd iets besonders, om nie eers te praat van ons eindjaar-ete nie. Ons hoogtepunt van die jaar is die heerlike vakansie wat ons saam geniet by ‘n binnelandse oord of op ‘n Bosveld wildsplaas. Ons is ‘n gelukkige groep wat saamwerk gedurende die jaar om fondse in te samel vir bogenoemde geleenthede.
Vir meer inligting kontak Jackie Bester – 084 738 8800.
7. KOINONIA-BEDIENING
Wat beteken Koinonia?
Koinonia is ‘n Griekse woord wat 20 keer in die Bybel voorkom. Koinonia se primêre betekenis is “gemeenskap, deel in die algemene en verbondenheid”. Die eerste voorkoms daarvan in die Bybel is in Handelinge 2:42 – “Hulle het hulle heelhartige toegele op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.” Christelike verbondenheid is ‘n kern aspek van die Christelike lewe. Gelowiges in Christus is veronderstel om saam te wees in liefde, geloof en aansporing. Dit is die kern van koinonia.
Filippense 2:1-2 verklaar dat “Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – maak dan nou my blydskap volkome deur eengesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe.” Koinonia is die ooreenkoms met mekaar, die feit dat ons verbind is in die doel vir ons lewe. Ons koinonia met mekaar is gebasseer op ons algemene koinonia met Jesus Christus.
Lees gerus ook: Johannes 1:6-7; Romeine 12:10; Romeine 12:16, 1 Petrus 3:8; Romeine 15:7; Galasiers 5:13; Efesiers 4:32; Kolossense 3:16; 1 Tessalosense 5:11; Hebreers 3:13; Hebreers 10:24, 1 Petrus 4:9; 1 Petrus 1:22; 1 Johannes 3:11; 3:23; 4:7 en 4:11-12.
Ons gemeente se Koinonia-bediening het sowat 2 jaar gelede tot stand gekom, toe die Here vir Br. Louis Kriel geroep het om die gemeente te mobiliseer om op ‘n praktiese manier aan ons onderlinge liefde, sorg en omgee uiting te gee. Ons bediening het bloot met ‘n boeke uitruil geleentheid op ‘n Sondag na die erediens begin, terwyl lidmate tee gedrink het. Later het dit ontwikkel in ‘n saamkuier en omgee en broodbak! Lidmate kuier en eet saam en deel met mekaar wat in hule lewens gebeur. By die tee en koffie, of sal ek liewer sê brood, kry die leraars ook geleentheid om op ‘n ander vlak by elke lidmaat uit te kom.
Die Koninkryk van God gaan in die eerste plek oor herstelde verhoudings, ons verhouding met God en met mekaar! Ons Koinonia-bediening skep die geleentheid vir elke lidmaat om te bou aan ons vehouding met mekaar. Indien jy graag wil help met tee skink, skottelgoed was ens. Kontakdie Kerk Kantoor.
8. SIEKESORG-BEDIENING
Êrens in die lewe kom siekte oor ons pad. Ons Siekesorg-bediening wil juis mense in hierdie tye van hul lewe bystaan, hetsy jy self die pasiënt is of hulp nodig het met die ondersteuning van ‘n siek persoon.
Lidmate word in die hospitaal of tuis besoek. Lidmate se name word op ons voorbiddingslysie geplaas en word d.m.v. gebed ondersteun.
Op hierdie stadium fokus ons hoofsaaklik op besoeke. Daar is egter die behoefte om lidmate wat op die langer termyn hulp nodig het verder te ondersteun. Indien daar iemand is wat die gawe het om mense te help verpleeg kan jy gerus vir ds. Francois kontak.
Jy kan ook op die volgende maniere betrokke raak:
◦Hospitaalbesoeke (plaaslike hospitale) waar jy ‘n besoek bring en vir mense bemoedig met die Woord en gebed.
◦Voorbidding (elke lidmaat se verantwoordelikheid)
Kontak vir Frederick de Lange – 083 306 7503 of Marlene Kriel – 078 493 2140. vir meer besonderhede.
9. TPM (Theophostic Prayer Ministry)
Dit gebeur dat ons elkeen op ‘n plek kom waar dit so belangrik is dat daar iemand is wat vir ons kan bid en met berading kan help. TPM is ‘niks anders as gebedsberading nie. TPM is op suiwer Woord gebaseer, die proses word alleenlik en streng volgens TPM riglyne gefasiliteer. Voortdurende monitering van sessies vind plaas om toe te sien dat die proses korrek geskied.
Hierdie bediening is ‘n proses van gebedsberading waartydens die fasiliteerder onder leiding van die Heilige Gees die gebedsessie lei.
Vir meer inligting kan jy vir James Wilke skakel – 0814069836
13. VROUEBEDIENING
Die Vrouebediening het ten doel om geleenthede te skep waar elke vrou in die gemeente geestelik verryk kan word en waar sy haar spiritualiteit kan uitleef.
Die Vrouebediening bied graag ‘n Damestee of Gemeente-tee aan. In die verlede het ons al mense gehad soos Retah Mc Pherson, Pastoor Eunice van der Merwe (Myrrh Ministries) en Mattys Roets wat ons bedien het. Die doel van hierdie geleenthede is dat die vroue mekaar beter kan leer ken en saam om God se woord kan kuier.
Die bediening lewer op verskeie vlakke diens en hier kan ons dames hulle gawes gebruik om die Here te dien.
Hierdie diensgeleenthede behels die volgende:
- Hulp tydens spesiale funksies soos bv. dames wat help met die verversings tydens ons Kerssangdiens en Belydenis van geloof aflegging.
- Die organisering en hantering van die kerkkombuis en toerusting.
- Spesiale projekte en betrokkenheid by ons onmiddelike gemeenskap waar daar nood is. Ons het hierdie jaar betrokke geraak by ‘n plaaslike skool en het skoolskoene, skoolklere en skryfbehoeftes aan minder bevoorregte kinders verskaf. Hierdie fondse het uit ons gemeente se tiende uitbetalings gekom. Ons wil die kerkraad bedank vir hierdie bydraes.
- Ons het ook ‘n Blombeurt-bediening onder leiding van Renee van der Linde, wat blomme tydens die erediens verskaf. Indien jy ook ‘n blombeurt wil hê, kan jy vir Renee kontak by 082 899 4200.
Ons kom een keer per maand bymekaar op ‘n Sondagmiddag 16:00. by hierdie saamkuier geleentheid sing ons saam, deel ons getuienisse en aanbid saam. Hou die afkondigings dop vir datums.